Brief van meganiese ingenieurstudent Deel 1

Geagte Prof. van Zyl

Met hierdie brief wil ek u graag persoonlik bedank vir u artikel/brief maande gelede in die Volksblad genaamd “Darwin-debat: ek glo wat ek glo”, die boekresensie oor George Claassen se nuutste boek ‘Geloof, bygeloof en ander wensdenkery’. Ek is `n meganiese ingenieurstudent by NWU Potchefstroom. Ek het egter groot geword in die Vrystaat en gaan van tyd tot tyd op die Volksblad se webtuiste net om te sien hoe dinge lyk. Daar het ek op u baie toepaslike artikel afgekom. Ek wil ook dan verder in die brief uitbrei oor die hele saak van godsdiens en evolusie, aangesien u nog laas die dekaan was van die Teologiese fakulteit by die Universiteit van die Vrystaat.

Ek het van Mei 2009 tot Januarie 2010 aan hierdie brief gewerk, en dit is hoekom u dit nou eers ontvang.

Ek kan darem met gemak sê dat ek met die meeste van die inhoud daarvan ten volle saamstem. Dit was vir my interessant om op hierdie artikel af te kom, want die afgelope paar jare het ek intens in die Skepping/Evolusie debat belanggestel en uit die aard van die saak baie leeswerk daaroor begin doen en ondersoek ingestel. Ek voel ek kan regtig `n paar insette lewer wat u dalk kan help om `n paar logiese foute (logical fallacies) te ontbloot en ander interessante punte raak te sien, veral in Claassen se denkwyse. Die gelowige moet inderdaad vandag antwoorde reg hê en kan nie net altyd hierdie kwessie ignoreer nie. En die goeie nuus is, daar IS antwoorde, nie al die antwoorde nie, maar regtig baie, meer as wat mense soms besef. Ek bespreek nou die volgende onderwerpe.

Die viering van Charles Darwin se verjaarsdag.

Reg oor die wêreld het feesvieringe in 2009 plaasgevind vir Darwin se 200ste verjaarsdag. Museums, universiteite en selfs joernale het honderde duisende, indien nie miljoene nie, aan die geleentheid spandeer. Die joernaal Nature het `n hele uitgawe spesiaal uitgereik daarvoor. En die lys gaan aan en aan!

Maar hoekom maak mense so `n groot bohaai daaroor, verstaan hulle dan nie die teorie wat hulle so koorsagtig aanhang nie? Om mee te begin postuleer die evolusieleer dat ons hier gekom het deur `n baie wrede proses waar die sterkste oorleef en die swakste noodwendig gedood moet word, anders meng die sterk genetiese eienskappe maar net weer in die genepoel in en is dit nutteloos. Miljoene jare se dood en bloedvergieting (deur natuurlike seleksie), om dit sag te stel, is dus `n wonderlike ding! Is dit nie presies waarteen ons hele samelewing so hard baklei nie? Dat die swakkes deur die sterkes onderdruk en vernietig moet word. Dit maak nie vir my logies sin dat enige rasionele persoon so `n verskriklike proses wil vier nie, tensy `n heeltemal ander ding in oorweging gebring word. Al hierdie feeste gaan glad nie oor wetenskap nie, maar liewers oor die onafhanklikheid van `n Skepper-God (waaraan hulle verantwoording moet doen) wat mense deur Charles Darwin gekry het. Die welbekende ateïs Richard Dawkins het dit baie mooi opgesom in een van sy boeke: “Darwin made it possible to be an intellectually fulfilled atheist”.
[Uit: Dawkins, R; The Blind Watchmaker. Why the evidence of evolution points to a universe without design. Bl. 6]

`n Tweede punt kan gemaak word wat die geheim verklap. Hoekom het dieselfde tipe feesvieringe nie plaasgevind rondom verjaarsdae en deurbraak werke van ander groot wetenskaplikes soos, Sir Isaac Newton, Louis Pasteur, James Maxwell, Albert Einstein of selfs Gregor Mendel, wat die vader van moderne genetika is nie? Ek dink die bogenoemde stelling beantwoord dit ook dalk. En ons kan maar net aflei dat die mens se hart harder as ooit van tevore is.

Wetenskap en evolusie.

Baie mense dink dat wetenskaplikes moet reg wees oor die evolusieleer, aangesien ons die resultate van die wetenskap orals rondom ons kan sien. Ek bedoel, is dit nie die wetenskap wat vir ons antibiotika, elektrisiteit, en ander wonderlike dinge gebring het nie? Dit is egter belangrik om die beperkinge van die wetenskap te verstaan. Die wetenskap wat vir ons al hierdie wonderlike dinge meegebring het gaan alles oor dinge wat getoets, waargeneem, gedemonstreer en selfs oor en oor herhaal kan word. So kan `n chemiese reaksie oor en oor in die laboratorium gedoen word om die resultate en die beginsels van chemie te valideer. Die ‘wetenskap’ wat gebruik word om die verlede te probeer ontdek is heeltemal anders. Wetenskaplikes moet leidrade gebruik wat in die hede bestaan om te probeer raai wat in die verlede aangegaan het. Die verlede kan hoegenaamd nie oor en oor herhaal word nie. Daarom sal die manier wat elke wetenskaplike, of selfs nie-wetenskaplike die leidrade interpreteer grootliks afhang van sy/haar vooropgestelde idees en voorveronderstellings.

Oorspronge is uit die aard van die saak in die verlede, en kan nie herhaal word nie! Intelligente Ontwerp- en Skeppingswetenskaplikes (en mag ek sê dat daar baie meer is as wat die meeste mense besef) het in 99% van die gevalle geen probleem met die leidrade (soos bv. Fossiele) nie, maar hulle bevraagteken die manier wat dit geïnterpreteer word. Selfs onder evolusioniste self is daar soms groot geskilpunte wat hulle onder mekaar het en net nie oor kan saamstem nie. `n Baie goeie voorbeeld is die sogenaamde “hominied” fossiel met die naam “The Hobbit” of Homo floresiensis. Die een kamp proklameer dit as `n oorgangsfossiel tussen die mens en sy (veronderstelde) aapagtige voorouer, en die ander kamp hou vol dat dit Homo sapiens is wat `n baie spesifieke siekte of siektes gehad het (waarvan ek nie nou die volle besonderhede kan herroep nie). Een wetenskaplike van die laasgenoemde kamp het onlangs `n boek daaroor geskryf genaamd: The Hobbit Trap: Money, Fame, Science and the Discovery of a ‘New Species’ deur Maciej Henneberg en John Schofield. Die titel self is baie beskrywend en dit kom uit die mond van `n evolusionis self. Ek hoop dat bogenoemde voorbeeld die punt goed demonstreer.

Ek beklemtoon hierdie punt redelik sterk, aangesien Claassen en ander soos hy probeer toor met die woord ‘wetenskap’. Maar as `n mens kan begin om die regte vrae te vrae, soos: ‘praat ons hier van dinge wat in die waarneembare hede is, of spekulasies van die verlede wat hoegenaamd nie herhaal kan word nie’, dan kan Claassen en ander evolusioniste `n mens nie meer flous nie. Lees verder...