Hoofblad | Anatomie | Genetika | Patologie | Voortplanting | Addisionele leesstof | Skakels

Die skrywer

Ek, Kobus Grobler, is meer as 'n halfeeu gelede gebore in Pretoria en het ook daar my skool- en universiteitsopleiding voltooi. Daarna het ek twee jaar diensplig gedoen in die eertydse Bophuthatswana in Mogwase naby Sun City. Vir ses maande het ek as kleindierveearts in Kemptonpark gewerk en van daar is ek na my huidige praktyk in Rustenburg waar ek sedert September 1990 doenig is met al wat 'n mak dier is. Ek hou die meeste van chirurgie, veral in honde en katte, maar uit die aard van die praktyk moet ons maar alles doen wat voorkom en is die mate van spesialisasie gering.

Reeds van laerskooldae af het ek 'n groot belangstelling in die natuur gehad. In my ouerhuis het ek gereeld die Afrikaanse Kinderensiklopedie beetgehad en het vroeg al geweet wat 'n ligjaar en 'n astronomiese eenheid is. (Die parsek was egter vir my 'n moeilike begrip, want alhoewel ek geweet het dit was sowat 320 ligjaar, kon ek nie die beginsel daaragter verstaan nie.) Tydens ritte na die nabygeleë Hartbeespoortdam het die besondere hoë kranse op daardie jong ouderdom vir my ook baie interessant voorgekom. Ek het bly wonder hoe hulle gevorm was en ek het in my kinderlike eenvoud gedink dat hulle deur druk van onder af moes gevorm het. Later jare, in St 7 het ek in 'n tydskrif op die 'Bombardier beetle' afgekom wat 'n baie spesiale verdedigingsmeganisme gebruik wat van meet af aan reg moes funksioneer, anders sou dit noodlottige gevolge vir die arme insek inhou. My Afrikaanse onderwyser van daardie jaar het ook sterk teen die evolusieteorie kapsie gemaak en so my jong gemoed beïnvloed.

Namate ek op universiteit meer van die fisiologie, anatomie en voortplanting geleer het, het ek besef dat die natuur om ons baie meer ingewikkeld is as wat dit op die oog af lyk. Dit het my net meer en meer laat besef dat evolusie baie geloof verg. Baie meer as wat die idee van 'n Almagtige Skepper verg. Die afgelope tyd het ek egter nog dieper in van hierdie velde probeer indelf en het ek agtergekom dat die grootskaalse vordering op allerlei gebiede net meer en meer gevorderdheid aan die lig bring. Hoe meer die wetenskaplike met 'n oop gemoed na al die ontdekkings kyk, hoe meer raak hy/sy bewus van die ontsagwekkende wonder van die skepping. Die klem is egter op die vooropgesette idees van die waarnemer, want die evolusionis sien alles klaarblyklik deur 'n ander bril as ek!