
Evolusie: ‘n Christengelowige se perspektief — Deel 5
Die vorige twee artikels het gehandel oor die sterre en die geweldige afstande tussen hulle, maar ook oor die detail wat ons in atome kan waarneem. Ons het ook daarin gesien dat daar probleme bestaan vir diegene wat glo dat doellose evolusie vir hierdie ingewikkelde en grootse stelsels verantwoordelik was. Wanneer lewende selle egter bestudeer word, raak die ingewikkeldheid daarvan net eenvoudig moeilik om te glo en sluk mens maar swaar aan die verduidelikings wat die evolusieleer daarvoor voorhou.
Charles Darwin het geen idee gehad hoe ingewikkeld lewende selle is nie. In sy tyd kon die ligmikroskoop weinig van die interne werking van die sel ontbloot. Vandag, met hulpmiddels soos die elektronmikroskoop en X-straal kristallografie, het wetenskaplikes egter baie ver gevorder om die sel se geheime bloot te lê. Vandag weet ons dat ‘n enkele sel meer gekompliseerd is as ‘n reuse stad!
Volgens die evolusieleer is bakterieë die mees primitiewe selfrepliserende lewende organismes en het hulle eerste op die jong aarde van 4,5 miljard jaar gelede ontwikkel. Die eenvoudigste bakterium, ‘n mikoplasma, bestaan egter uit sowat 600 verskillende proteïene wat elk uit ongeveer 400 aminosure opgebou is. Prof Harold Morowitz, self ‘n erkende evolusionis, het bereken dat die kanse dat so ‘n organisme spontaan ontstaan het, sowat 1 kans in 10 met 100 miljard nulle is. Weer eens het ons hier met ‘n moeilik begrypbare getal te doen, maar om dit in perspektief te sien kan ek noem dat wetenskaplikes ‘n kans van 1 in 10 met 150 nulle as die grens van onmoontlikheid beskou! As al die elektrone in die heelal elkeen ‘n biljoen (1 000 000 000 000) interaksies per sekonde sou ondergaan in die veronderstelde maksimum 30 miljard jaar wat die heelal oud is, sou die totale aantal interaksies maar 1 met 110 nulle daaragter beloop.
Werk wat deur Japannese navorsers oor die afgelope tien jaar gedoen is op bakterieë, het verstommende feite vorendag gebring. Sommige bakterieë soos Salmonella en E. coli beweeg deur gebruik te maak van sweephare of flagella. Hierdie haartjies is maar 20 µm (duisendstes van ‘n millimeter) dik en draai teen 20 000 omwentelinge per minuut. Elkeen word aangedryf deur ‘n motortjie in die selwand wat deur protone gedryf word. Die flagellum word binne minute deur die bakterium gevorm deur 20 000 tot 30 000 deeltjies deur ‘n holte in die middel daarvan te stoot. Die bakteriesel besluit binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde om vorentoe of agtertoe te beweeg en in daardie kort tyd herrangskik al 20 000 deeltjies om die verandering in rigting te bewerkstellig.
Na my mening verg dit geweldig baie geloof om so ‘n ingewikkelde struktuur wat deur die bakterium self gevorm en beheer word aan blote toeval toe te skryf. Ernst Chain, ‘n wêreldberoemde biochemikus het die volgende daaroor te sê gehad: “I have said for years that speculations about the origins of life lead to no useful purpose as even the simplest living system is far too complex to be understood in terms of the extremely primitive chemistry scientists have used in their attempts to explain what happended billions of years ago. God can not be explained away by such naïve thoughts” (Aangehaal deur R. W. Clark, in The Life of Ernst Chain: Penicillin and beyond, Weidenfeld & Nicholson, Londen, bl. 148, 1985)
Die skematiese voorstelling van die besluitnemingsproses deur ‘n Lambda-virus wat op die bakterium E. coli teer, word hier getoon. Hierdie ingewikkelde proses word deur die virus gebruik om te besluit of die gasheerbakterium gedood moet word, en of die virus in ‘n rustoestand moet ingaan. Die virus neem hierdie besluit binne minute, maar die navorsers moes veertig verskillende faktore in berekening bring en ‘n superrekenaar gebruik om tot hul gevolgtrekkings te kom. Niemand sal ontken dat daardie rekenaar ontwerp is nie, maar talle wetenskaplikes wil glo dat die virus wel spontaan ontwikkel het.

Model van die besluitnemingsbane van die Lambda-virus. Die dik horisontale lyne verteenwoordig die virus se DNS, terwyl die afkortings spesifieke gene aandui. Bron: Genome Management Information System, Oak Ridge National Laboratory.
Meersellige diere en plante is duisend maal meer ingewikkeld as bakterieë en enkelsellige organismes. In die volgende paar artikels gaan ek poog om die sluier so ‘n bietjie te lig en u meer daarvan te vertel. Lees verder...