Evolusie: ‘n Christengelowige se perspektief — Deel 18

Regoor die węreld is daar al verskeie kandidate gevind wat deur paleo-antropoloë beskou word as skakels in die evolusie tussen aapagtiges en die mens. Die eerste kandidaat was die Neanderdalmens wat aanvanklik in Europa gevind is, maar voorbeelde is intussen ook in die Midde-Ooste opgegrawe. Hierdie mense word in die media uitgebeeld as swaksinnige barbare wat nie kon praat nie (vergelyk byvoorbeeld die mense in die strokiesprent ‘Ice Age’), maar argeologiese bevindinge dui tog op ‘n groot mate van kunssinnigheid (beenfluite, kunswerke en versierings) en daar is anatomiese bewyse dat hulle wel tot spraak in staat was. Die gemiddelde breingrootte van die Neanderdalmens was ongeveer 10 % meer as dié van die moderne mens en te oordeel aan hul beenstruktuur moes hulle baie sterk gewees het.

Die beste verklaring vir hierdie mense uit ‘n Bybelse oogpunt is dat hulle direk na die sondvloed geleef het. Volgens die Bybel het mense in daardie tyd redelik oud geword en grootskaalse vulkaniese uitbarstings en ‘n ystydperk sou veroorsaak het dat siektes soos ragitis algemeen was. Die hoë ouderdom verklaar die dik wenkbroue en harde arbeid die dik en sterk beendere. Ragitis sou die vooroorgeboë voorkoms van sommige van die skelette goed verklaar. Volgens die evolusieleer is hierdie groep mense egter deur ons voorgangers vanuit Afrika uitgemoor of verplaas.


‘n Vergelyking tussen die skedels van ‘n moderne mens en die Neanderdalmens. Bron: Wikipedia

Nog 'n kandidaat is die sogenaamde Javaman wat in Indonesië gevind is. Die skedel en bobeen van die spesie is ‘n paar maande uitmekaar deur ene Eugene Dubois gevind: heel gepas enkele dae voordat sy befondsing sou opraak. Dubois het jare later eers onthul dat hy rondom dieselfde tyd die oorblyfsels van ‘n moderne mens in presies dieselfde area gevind het.

Afrika is egter die bron van die meeste kandidate. Afrika is die tuiste van die meeste groot aapspesies en uit ‘n evolusionistiese denkpatroon is dit logies dat die mens se evolusie hier sou plaasvind. Oor die jare is etlike verskillende spesies in Oos-Afrika en hier in Suid-Afrika gevind na jare en jare se soektogte. Dit is nogal opmerklik dat die meeste vondse baie na aan die oppervlak of in grotte gevind is: dit is darem baie toevallig dat al die miljoene jare se lae juis nou alles deur erosie weggevoer is, of hoe?

Met indrukwekkende name soos Sahelantropus chadensis, Australopithecus afarensis, A. africanus, A. sediba, Homo habilis, H. ergaster en H. erectus word die man op straat op ‘n subtiele wyse deur die media gebreinspoel om te glo dat menslike evolusie ‘n voldonge, onbetwisbare feit is. Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. Geeneen van hierdie fossiele kan bewys word om van enige ander af te stam of om oorsprong te gegee het aan enige ander fossiel nie. Dikwels oorvleuel die tydperke waarin hulle gevind word grootliks met dié van hulle voorgangers of gewaande afstammelinge. Om dié probleem te oorkom word fossiele dan gewoonlik heen en weer oor spesiegrense geskuif.

So is die oudste fossiel van ‘n menslike bo-arm, die Kanapoi humerus, gedateer op 4,5 miljoen jaar. Die Laetoli-voetspore is eweneens gedateer op 3,5 miljoen jaar en word deur kenners beskou as identies aan dié van moderne mense, maar omdat daar volgens evolusie nog geen moderne mense so vroeg was nie, word die voetspore aan Australopithecus afarensis toegedig, hoewel hierdie aapsoort se voetbeentjies glad nie getuienis lewer vir so ‘n aanname nie. Nog baie ander voorbeelde van oorvleueling is te sien in Marvin Lubenow se boek “Bones of Contention” wat hy na dertig jaar se in diepte studie oor paleo-antropologie geskryf het. As die gegewens met ‘n oop gemoed beskou word, is ‘n heel ander prentjie sigbaar as wat die media ons wil wysmaak.

Dit was baie interessant om te sien hoe die inligting oor Australopithecus sediba bekendgemaak is. Met die komende 2010 FIFA Sokkerwęreldbekereindstryd op hande en ernstige politieke woelinge na die moord op ‘n regse figuur en uitsprake van opruiende aard deur politieke leiers, word ‘n aankondiging gemaak: een van die menslike voorgangers is in Suid-Afrika ontdek! Dit nadat die fossiele al agttien maande gelede gevind is. Dae na die aankondiging verklaar ander paleo-antropoloë soos Tim White dat die ontdekking nie nog ‘n spesie is nie en net soos A. africanus nie aan menslike evolusie deelgeneem het nie. Dit herinner aan ‘n klomp klein kindertjies wat die heel tyd stry oor wie se speelgoed dit nou eintlik is!

By Maropeng naby Hekpoort is daar ‘n kunstenaarsvoorstelling van ‘n hominien (mensvoorganger) en sy vrou. Daar is geen aanduiding van die fossielspesie wat hier uitgebeeld word nie, dus wonder ek hoeveel wetenskap hier ter sprake is en of dit nie net gaan oor breinspoeling van die jeug nie. Hierdie spesifieke uitstalling grens aan pornografie aangesien die man en sy vrou sonder ‘n draad klere tentoongestel word. Die boodskap van evolusie word hier hard en duidelik uitgespel, sonder enige aanduiding dat daar twyfel oor enige aspekte bestaan. Ek dink dat die meerderheid Suid-Afrikaners baie gebelg behoort te voel as hulle die werklike implikasies en gevolge van evolusie moes verstaan.

Indien menslike evolusie wel plaasgevind het, sou dit beteken dat verskillende mensgroepe teen verskillende tempo’s oor 200 000 jaar ontwikkel het. Volgens negentiende-eeuse wetenskaplikes was die minder ontwikkelde groepe nie veel meer gevorderd as aapsoorte nie en dit het gelei tot erge rassisme en selfs die uitroei van sogenaamde laer ontwikkelde volkere. Moderne genetika het egter bewys dat die totale mensdom uit ‘n enkele vrou en waarskynlik ‘n enkele man ontwikkel het. Dit pas baie goed in by die Bybelse getuienis dat Eva die moeder van alle nasies is. Die mens is ook daarvolgens geskape as intelligente, denkende en besluitnemende wese, net jammer dat hy reg van die begin af al die verkeerde besluite geneem het. Lees verder...