Evolusie: ‘n Christengelowige se perspektief — Deel 16

Noudat die leser ‘n idee het van die kompleksiteit van die heelal en ons in die laaste drie aflewerings gesien het hoe die evolusieleer staatmaak op wonderwerke, wil ek in die volgende paar artikels van dié aspekte bespreek waarop wetenskaplikes steun om hul sienings te verdedig.

Die eerste aspek wat onder die loep kom is fossiele. Vir baie wetenskaplikes is fossiele die beste bewys dat evolusie wel plaasgevind het. Kort na die aanvang van hierdie reeks het ek dan ook ‘n SMS ontvang wat hierdie siening bevestig: “Darwin was never mentioned. But after fifty years of digging his theory is on everyone’s lips. QED” Ek het die oorspronklike SMS ongelukkig uitgevee, maar bogenoemde is ‘n parafrase daarvan. Die afkorting QED staan vir die Latyn “quid erat demonstrandum” wat beteken “dit was net wat hulle wou bewys”.

Wat is ‘n fossiel en hoe word dit gevorm? Die term fossiel word gebruik vir enige materiaal, hetsy dierlik of plantaardig wat onder spesiale omgewingstoestande bewaar word en talle jare na afsterwe tot ‘n mate behoue bly. Dit behels die bedekking van daardie materiaal voordat predasie of verrotting kan plaasvind. Fossiele word meestal in sedimentêre rots gevind: dit beteken dat daardie organisme of plant toegespoel is deur modderige water wat alle suurstof uitgesluit het en dus verrotting verhoed het.

Regoor die wêreld is al derduisende fossiele van allerlei groottes en vorms gevind. Verreweg die meeste fossiele is van seediere terwyl dinosourusse en diere wat moderne diere verteenwoordig maar ‘n baie klein persentasie uitmaak. Fossiele van die sogenaamde hominiene of mensagtiges sou slegs ‘n groterige kamer kon vul, maar omdat dit so ‘n sensitiewe onderwerp is, veroorsaak ontdekkings in die groep groot opslae soos ook onlangs met die ontdekking van Australopithecus sediba naby die Sterkfonteingrotte. Ons sal in die volgende artikel die hominiene van naderby bekyk.

Vandag vind fossilisering feitlik nooit plaas nie. Indien ‘n dier tot sterwe kom, word al die dooie materiaal deur verrottingsbakterië, aasdiere en die klimaat opgeruim. Was dit nie die geval nie, sou siektes soos miltsiekte en lamsiekte geweldige afmetings aangeneem het, om nie van die onuithoudbare stank te praat nie. Die enigste manier waarop ‘n groot dier soos een van die dinosourusse kon fossiliseer sou wees as dit onmiddelik na dood deur genoegsame modderwater bedek was voordat enige aasdiere daarby kon uitkom. Die organiese materiaal is dan ook deur minerale in die modderwater vervang en aldus het die fossiele versteen.

Hoe lank neem hierdie proses? Wetenskaplikes wil ons laat glo dat dit miljoene jare neem, maar daar is talle voorbeelde van voorwerpe wat in ‘n kort tyd versteen het. So is daar byvoorbeeld ‘n moderne hoed in Nieu-Seeland, ‘n Cowboy-stewel met die ongelukkige kêrel se voet nog daarbinne in Amerika, ‘n hond wat binne ‘n boom vasgesit het ook in Amerika en selfs alledaagse voorwerpe soos suurkomkommers, akkers en vetkryt wat in sommige gevalle binne ‘n jaar versteen het. Al wat nodig is, is deurdrenking met mineraalryke water en tyd, maar nie noodwendige miljoene jare nie.

‘n Verskynsel wat moeilik deur die evolusieleer verklaar word, is polistraatfossiele. Die term word gebruik vir bome wat in ‘n regop posisie versteen het, terwyl dit oor talle lae van die sogenaamde geologiese kolom strek. Die geologiese kolom verwys na die tabel met ouderdomme en name soos ‘Karboon’, ‘Juras’, ‘Trias’ en ‘Devoon’ wat in museums aangetref word. Dit verwys na veronderstelde neerleggings van rotsmateriaal oor miljoene jare. Die bestaan van polistraatfossiele skep ‘n probleem aangesien dit sou beteken dat daardie bome vir miljoene jare daar gegroei het, sonder enige teken van inmenging deur die omringende rots. Sommige van hierdie bome is egter onderstebo wat die verduideliking nog moeiliker maak.

Wetenskaplikes gebruik sekere fossiele as sogenaamde ‘indeksfossiele’. Dit beteken dat die laag van die geologiese kolom waarin hulle aangetref word, ‘n sekere ouderdom toegeken word. Dit help wetenskaplikes om die ouderdom van rotslae volgens die evolusieleer te bepaal. Groot was die ontsteltenis egter toe een van hierdie fossiele, wat volgens hul redenasie 70 miljoen jaar gelede geleef het, in 1938 naby die Suid-Afrikaanse kus springlewendig gevang is! Die selakant, Latimeria, was ook beskou as een van die voorgangers van landdiere vanweë die uitsonderlike bou van die onderste vinne, wat anders as by ander visse, bene bevat. Wetenskaplikes het gereken dat hierdie besonderse vis die vinne gebruik het om op die bodem rond te loop en met verloop van tyd op land uitbeweeg het.


‘n Model van die selakant Latimeria chalumnae in die Oxford Universiteit se Museum van Natuurgeskiedenis. Bron: Wikipedia.

Studies naby die eilande wes van Afrika het egter bevind dat tientalle van hierdie ‘fossiele’ steeds heel goed oorleef en definitief ook nie hulle vinne gebruik om te loop nie. Deur die jare is daar verskeie ander diere ook herontdek soos Bulmer se vrugtevlermuis, die Chaccoaanse pekkarie (‘n tipe vark) en die kampioen van oorlewing, Neopilinia, wat oor die 212 miljoen jaar uit die fossielrekord afwesig was.

‘n Besondere dik boek, ‘Forbidden archaelogy’ van Cremo en Thompson dokumenteer honderde voorbeelde van fossiele wat nie inpas by die normale verloop van sake volgens die evolusieleer nie. Hierdie twee skrywers is nie Christengelowiges nie, maar hulle meld geval na geval wat heeltemal teenstrydig is met die heersende siening van die meerderheid wetenskaplikes. Dit dui ook op die probleme wat ontstaan as fossiele gebruik word om sedimentêre lae te dateer: baie sterk sirkelredenasie word duidelik sigbaar want die lae word gedateer op grond van die indeksfossiele wat daarin voorkom terwyl hulle as indeksfossiele gereken word juis omdat hulle in spesifieke lae gevind word!

Hoe moet fossiele geïnterpreteer word in die lig van die gebeure in Genesis? Die wêreldwye vloed waarvan ons in die Bybel lees verduidelik die fossielrekord baie beter as enige teorie van die geleidelike ontwikkeling daarvan. Dit verklaar ook baie maklik die toestroom van duisende reuse diere, sommige in groot getalle. Dit verklaar hoekom sommig daar fossiele is wat begrawe terwyl hulle besig was om geboorte te skenk of terwyl hul onverteerde maaltye nog duidelik sigbaar is. Dit sou die bestaan van polistraatfossiele maklik kon verklaar, veral waar bome onderstebo staan of waar daar geen getuienis van wortels is nie. Dit verklaar ook die bestaan van sogenaamde ‘lewende fossiele’ soos die selakant en Neopilinia baie beter as wat die evolusieleer ooit kan doen. Vir ‘n uitstekende moontlike model van die sondvloed, besoek gerus die webblad: www.creationscience.com. In die volgende artikel kyk ons na ons sogenaamde voorouers. Lees verder...