Evolusie: ‘n Christengelowige se perspektief — Deel 12

In die vorige aflewerings het die oog onder die loep gekom. Die struktuur, werking en voorkoms van die oog is baie moeilik om deur lukrake toevallighede te verklaar. Vandag bestudeer ons twee van die noodsaaklike organe in die liggaam: die hart en die niere.

Die funksie van die hart en niere is baie nou verweef: met hartversaking word die bloedtoevoer na die niere verminder en dit lei tot aansameling van ‘n oormaat vog in die liggaam. Die niere probeer kompenseer deur ‘n hormoon af te skei wat in die longe geaktiveer word en wat bloeddruk verhoog. Die verhoogde bloeddruk plaas weer ekstra las op die hart en ‘n bose kringloop ontstaan tensy mediese hulp gesoek word. Vir my is dit een van die sekerste tekens van ‘n ontwerper: kyk maar net in enige patologiehandboek wat kan alles moontlik foutgaan in die liggaam en dan besef mens hoe min ruimte is daar vir wanfunksie. Dit is egter die roumateriaal vir evolusie: dat toevallige foute (mutasies) in diere se DNS (Engels: DNA) aanleiding gegee het tot organismes wat beter as hul eweknieë kon oorleef.

Die hart funksioneer as ‘n pomp. Dit is egter ‘n baie spesiale een: die binnewand van die hart is aaneenlopend met die binnewand van die slagare, are en die wand van die bloedhaarvate. Laasgenoemde vaatjies is so dun dat rooibloedselle een vir een daardeur moet beweeg om sodoende die maksimum oppervlak vir suurstof- en koolsuurgaswisseling bloot te stel. Verder pomp die hart aanmekaar vanaf ‘n paar dae oud tot en met sterfte: in die meeste spesies ‘n totaal van ongeveer 2 miljard slae!

Hartspier verskil van gewone gestreepte spier daarin dat die selle met mekaar verbind is. Die hart bestaan letterlik uit slegs twee baie groot spierselle! Die hart kan heeltemal onafhanklik van sy senuweebeheer vanaf die liggaam funksioneer en die twee hartkamers kan ook onafhanklik van die voorhartkamers saamtrek, maar dan vind die sametrekking ongekoördineerd plaas en is ‘n pasaangeër nodig. Dit is gewoonlik die gevolg van skade aan die bondel van His, wat die twee natuurlike pasaangeërs in die hart, die Sino-atriale – en die Atrioventrikulêre knoop met mekaar verbind. Hierdie twee knope is eintlik ‘n aansameling van senuselle wat met gereelde tussenpose elektriese impulse afvuur.

Die bloeddruk in die liggaam hang van verskeie faktore af: die belangrikste is egter die sterkte waarmee die hartspier saamtrek en die deursnee van die slagare. Bloeddruk staan onder beheer van spesiale sentrums in die brein en dit word deur gesofistikeerde apparaatjies in die groot slagare en die niere gemonitor. Sou die bloeddruk daal, word adrenalien en noradrenalien deur die byniere afgeskei en dit veroorsaak sterker en vinniger sametrekking van die hart en vernouiing van die slagare. Indien die hart om een of ander rede nie genoeg bloed by die brein uitkry nie, vind floute plaas wat noodlottig kan wees in sekere omstandighede. (bv. as iemand ‘n motorvoertuig bestuur)

Die niere daarenteen is twee filters wat uitstekende werk doen om afvalstowwe te verwyder en te verseker dat die hoeveelheid vloeistof in die liggaam konstant bly. Die basiese eenheid van die nier word ‘n nefron genoem: dit bestaan uit die glomerulus, die kapsel van Bowman en ‘n nierbuisie wat uiteindelik in die nierbekken eindig. Die glomerulus is eintlik ‘n bondeltjie bloedhaarvate wat deur ‘n spesiale lagie selle belyn word. Hier word afvalstowwe en sommige nuttige stowwe deurgelaat, terwyl groot molekules soos bloedproteïene in die vaatjies agterbly. Verder af in die buisies word nuttige stowwe en minerale teruggeneem in die bloedstroom en ander afvalstowwe aktief deur die buisselle afgeskei. ‘n Ingewikkelde meganisme wat ‘n klein persentasie ureum in die gebiede tussen die buisies terughou, verseker dat die oormaat water wat aanvanklik deur die glomeruli afgeskei is, weer d.m.v. osmotiese aksie herabsorbeer word.


Die glomerulus van ‘n muis hier ‘n duisendmaal vergroot. Die strepie onderaan die foto is slegs ‘n vyftigste van ‘n millimeter lank! Bron: Wikipedia

Die niere speel ook ‘n baie belangrike rol by bloeddruk soos reeds genoem en sorg verder dat die beenmurg meer rooibloedselle vorm tydens bloedarmoede. Die niere is ook verantwoordelik vir die handhawing van die suurbalans in die bloed en doen dit hand aan hand met die longe. Enigiemand wat al iets oor fisiologie of patologie van die niere geleer het sal besef dat dit geweldig baie geloof verg om te glo dat sulke effektiewe strukture deur doellose toeval tot stand gekom het. Beide die niere en die hart, tewens elke orgaan waarvan ons die funksie ken, blyk met nadere ondersoek uiters geskik te wees vir dit waarvoor dit bestem is. Al die organe in die liggaam werk dan ook as ‘n geïntegreerde span saam om voortbestaan van daardie spesifieke individu moontlik te maak.

Verder is daar ‘n magdom patologiese toestande van elke orgaan in die liggaam wat funksie kan beïnvloed. In sommige gevalle is dit slegs die afwesigheid of wanfunksie van ‘n enkele van die sowat 2000 ensieme wat siekte veroorsaak, in ander die oorreaksie van die immuunstelsel, in ander die onvermoë van die immuunstelsel om die biljoene siekteveroorsakende organismes wat elkeen daagliks bedreig wat tot siekte of die kan dood lei. In die geheel gesien is ek van mening dat die evolusieteorie ver tekort skiet om die wonder van die liggaam in al sy fasette te verklaar. Die aanvanklike uitgangspunt van suiwere evolusionisme, naamlik dat daar niks buiten materie bestaan nie, maak dit egter vir aanhangers van die teorie baie moeilik om tot ‘n ander gevolgtrekking te kom.

Maak gerus later weer 'n draai vir die volgende artikels in die reeks...