Evolusie: ‘n Christengelowige se perspektief

Die term ‘evolusie’ is deesdae oral in die nuus: in ons dagblaaie wissel lesers op gereelde grondslag idees daaroor uit, in natuurprogramme op televisie word dit dikwels opgehaal en selfs in ons skoolleerplanne duik die onderwerp al hoe meer gereeld op. Wat behels dit en wat is die feite rondom hierdie soms kontroversiële teorie?

Die term is afgelei van die Latynse woord ‘evolvere’ wat beteken: ‘na buite laat rol, voortwentel, losmaak, duidelik maak of ontwikkel’. Dit is veral laasgenoemde betekenis wat hoofsaaklik aan die term gekoppel word as daarna verwys word in wetenskaplike kringe. Van die mens se vroegste bestaan wonder hy oor die verstommende aspekte van die natuur rondom hom. Voor die koms van tegnologie het donderweer, vuur en ander natuurkragte soos orkane en vulkane die verbeelding van mense aangegryp en hulle laat probeer besin oor die oorsprong van sulke aangrypende verskynsels.

Voor die moderne tyd was die meeste mense daarvan oortuig dat daar een of ander bonatuurlike element moes wees wat vir al hierdie verskynsels verantwoordelik was. In alle kulture vind mens dus een of ander verwysing na gode wat dan buite die menslike waarnemingsveld oor hierdie natuurlike verskynsels beheer gehad het. In teenstelling met die meeste kulture staan die Jodedom, wat volgens hulle geskrifte deur die Skepper van alles self genader is om in ‘n verhouding met Hom te staan. Hierdie Skepper se uitnodiging word verder deurgetrek na die Bybel waarin dit gemeld word dat Hy self as mens in die persoon van Jesus Christus gekom het om mense die waarheid te wys.


Foto van ‘n meteoor met die Melkweg as agtergrond geneem deur Tony Rowell van White Mountain, Kalifornië. Bron: NASA Webblad

Met die koms van tegnologie het alles oënskynlik verander. Die teleskoop het nuwe wêrelde oopgemaak en mense soos Galileo en Copernicus het ontdek dat idees soos ‘n geosentriese heelal (die idee dat die aarde die middelpunt van die heelal is) nie water hou nie. Sterre is gesien vir dit wat hulle is: ontsaglike groot vuurballe wat ondenkbaar ver geleë is. Eers in die twintigste eeu is die bron van hul geweldige hitte ontdek: die samesmelting of fusie van vier waterstofatome om ‘n Heliumatoom te vorm. Met die verdere uitbreiding van kennis is baie van die aangrypende verskynsels soos weerlig en vulkane se oorsprong verklaar en die mens het gereken dat die bonatuurlike daarom nie meer ‘n plek in die moderne wetenskap het nie.

In hierdie ‘verligte’ eeu het die mens al op die maan gestap, hy het tuie tot in die verste uiterstes van ons sonnestelsel gestuur en verstommende foto’s van verafgeleë planete en hul mane geneem. Organe word daagliks met sukses oorgeplant, daar word binne-in die liggaam getuur met peperduur apparate en daar is selfs sprake dat genetiese afwykings binne dekades opgelos kan word. Nanotegnologie beloof om siektes en kanker binnekort meer doeltreffend te behandel en baie van die geheime van lewe soos oorerwing en die menslike DNS (Engels: DNA) is vandag aan ons bekend. Is daar dan hoegenaamd nog plek vir die bonatuurlike? Is dit nie net primitiewe mense wat uit onkunde aan die bestaan van ‘n God glo nie?

Die meeste wetenskaplikes huldig wel hierdie siening. Prof. Richard Dawkins, wêreldbekende bioloog, selferkende ateïs en skrywer het die volgende te sê gehad: “It is absolutely safe to say that if any person you meet claims not to believe in evolution he is either stupid, ignorant or insane (or wicked)”. Hy het ook by geleentheid opgemerk dat evolusie dit vir hom moontlik maak om ‘n intellektueel vervulde ateïs te wees. Wat is hierdie teorie wat so ‘n geweldige invloed op ons huidige samelewing het? Wat is die oorsprong daarvan, hoe geldig is die aannames wat daarmee saamgaan en hoe beïnvloed dit my en my kinders? Is daar hoegenaamd enige ammunisie vir diegene wat dit nie wil aanvaar nie? Lees verder...