Hoofblad | Fisiologie | Genetika | Patologie | Voortplanting | Die outeur | Addisionele leesstof | Skakels | Kontak

Anatomie

Daar is geweldig baie ooreenkomste tussen verskillende diere en plante in die verskillende ordes, families en genera.  Die evolusionis sien dit as 'n sekere teken dat alle diere uit gemeenskaplike voorouers ontwikkel het.  Vir die persoon wat in 'n skepping glo is dit egter geensins 'n probleem nie, want dit getuig van 'n Almagtige Skepper wat dieselfde doeltreffende patroon oor en oor vir sy skepping gebruik het.

Presies dieselfde gebeur immers wanneer menslike ontwerpers skep — 'n motorvervaardiger ontwerp tog nie elke keer die wiele, enjin, binneruim, battery, elektriese stelsel, elektriese motors vir die vensters en ander onderdele totaal van nuuts af nie.  'n Bestaande ontwerp word slegs gemodifiseer om die nuutste giere en grille van die motorpubliek en algemene tendense te bevredig.  Dit sou baie tydrowend en boonop heeltemal onekonomies wees as elke onderdeel van meet af aan gevorm moes word! Kom ons loer na 'n paar van die aspekte van die anatomie wat myns insiens eerder op 'n skepping as doellose toeval dui.

Die brein



Met dank aan: A.D.A.M.

Die brein en meer spesifiek dié van die mens is ongetwyfeld die ingewikkeldste struktuur in die heelal sover bekend.  Die menslike brein bestaan uit ongeveer 100 miljard senuweeselle en omtrent 10 tot 50 maal soveel ondersteuningselle soos mikrogliaselle en astrosiete.  'n Enkele menslike brein bevat sowat 1014 verskillende verbindings.  Dit word geskat om meer te wees as al die elektriese verbindings op aarde!  Ten einde so 'n sensitiewe struktuur te beskerm, word dit totaal omhul deur beenweefsel en tree die rugmurg en die kraniale senuwees (senuwees van die kop) deur noupassende openinge na buite.

Indien hierdie openinge te groot is, kan die brein daardeur prolaps soos met sekere miniatuur honderasse gebeur as die foramen magnum (sien foto hieronder) te groot is.  Gedurende die ontwikkeling van die fetus en groei na geboorte is dit uiters belangrik dat die groei van die brein en kraniale senuwees perfek gekoördineer moet wees met die groei van die openinge in die skedel, anders kan dit drukking en verlamming van die senuwees veroorsaak.  Dit gebeur byvoorbeeld met kalwers wat aan 'n tekort van vitamien A ly — die openinge om die oogsenuwee groei nie vinnig genoeg nie en die gepaardgaande drukking op die senuwee lei tot blindheid.

In die voorbeeld hierbo van 'n volwasse Bobbejaanmannetjie se skedel kan die foramen magnum duidelik gesien word.  Dit is die allerbelangrikste poort vir die rugmurg wat die skakel tussen die brein, kleinbrein en die res van die liggaam is. Dit is verstommend om te dink dat die skedel in wisselwerking met die eerste en tweede nekwerwels, die atlas en die axis, soveel beweging toelaat, dog die delikate verbinding tussen die brein en die rugmurg sorgvuldig beskerm.

Gedurende die vroeë stadia van ontwikkeling in die fetus word daar ongeveer 250 000 breinselle per minuut gevorm. As al die senuvesels met skedes in die brein aanmekaar gelas word, sal dit 'n afstand van 150 000 tot 180 000 km beslaan!! Dan wil die evolusioniste vir ons vertel dat die mens die gevolg van 'n totaal lukrake proses van toevallige gebeure was!

Die oog



Benewens die brein is die oog een van die grootste wonders van die natuur. Nie net is elke dier op aarde se oë baie doeltreffend ontwerp vir sig en oorlewing nie, maar die oog pas fantasties in by elke dier se gesigsvorm en -kleur.

Damesoog, Ed BuytaertSkopsuil, outeurArend, Animal Planet
Dikkop, outeur Kat, Powerpoint Presentation 'Wunderbare bilder'Slang, Animal Planet
Geitjie, Animal PlanetDuif, Animal PlanetPapegaai, Animal Planet

In die embrio begin die oog as 'n uitstulping van die brein wat op 'n stadium met die vel versmelt. Dié deel van die vel vorm uiteindelik die ooglede. Die ooglede self is ook fantasties ontwerp met die wimpers wat die oë beskerm en klein kliertjies wat 'n vetterige stof afskei wat 'n dun lagie bo-op die traanvog vorm om smering te verskaf en te keer dat die trane te vinnig verdamp. Die waterige komponent van trane word deur die traanklier aan die kant van die oogbal gevorm en benewens 'n soutoplossing wat presies reg geformuleer is om nie die oë te brand nie, bevat dit ook teenliggaampies om kieme te beveg. Die slymvlies wat oor die wit van die oog en aan die binnekant van die ooglede lê, bevat ook kliertjies wat 'n slymerige afskeiding vorm wat direk op die horingvlies lê en bydra tot smering van die ooglede. Indien enige van hierdie strukture en bestanddele nie behoorlik funsioneer nie, het die dier of mens eindelose probleme, byvoorbeeld wanneer die wimpers skeef groei en die oog die heeltyd krap.

Die horingvlies (kornea) is 'n baie spesiale membraan wat deurentyd deur 'n vloeistofpomp aan die binnekant daarvan in 'n ontwaterde toestand gehou word. Indien hierdie proses belemmer word soos tydens infeksie, word die horingvlies ondeursigtig en word sig beperk. In die voorste oogkamer is daar 'n helder vloeistof wat die heeltyd aangevul word en deur spesiale openinge dreineer. Gloukoom ontstaan wanneer hierdie dreinasieproses nie behoorlik funksioneer nie. Net agter die horingvlies lê die iris wat 'n verskeidenheid van kleure kan wees van blou deur groen tot bruin, afhangende van die hoeveelheid melanien ('n bruin tot swart pigment) daarin. Die iris beskik oor baie fyn spiertjies wat op twee maniere gerangskik is ten einde die pupilopening kleiner of groter te maak na gelang van die ligsterkte. Hierdie proses word geheel en al outomaties deur 'n refleksbaan na die brein beheer.

Met dank aan: A.D.A.M.

Die lens van die oog is 'n elastiese, deursigtige struktuur wat deur vesels aan spesiale spiertjies geheg is. Hierdie spiertjies verstel die vorm van die lens om te vergoed vir voorwerpe wat van verskillende afstande waargeneem word. Ook hierdie proses vind totaal outomaties plaas deurdat die brein die nodige verstellings aanbring soos nodig. Met verhoogde ouderdom gaan hierdie proses (akkomodasie genoem) verlore en word 'n leesbril 'n noodsaaklike item vir die meeste mense bo veertig. Invallende lig word deur die lens sodanig gebuig dat dit 'n omgekeerde beeld op die netvlies (retina) vorm wat dan deur die oogsenuwee na die brein gelei word. Die oogsenuwee van die mens bevat ongeveer 1 200 000 senuweevesels en is 50mm lank. 'n Derde van die vesels oorkruis om na die oorkantste breinhelfte te gaan. Sig vind uiteindelik aan die agterkant van die kop plaas waar die brein impulse vanaf die oë vertolk. (sien blou deel van breinskets hier bo).

Op molekulêre vlak begin die proses van sig wanneer 'n foton in die retina met die molekule 11-cis-retinaal (c-opsien) bots en 'n strukturele verandering in die molekule bewerkstellig. Hierdie klein verandering sit 'n reeks chemiese reaksies aan die gang wat op die ou einde lei tot 'n blokkasie van soutinvloei na die sel en so 'n elektriese impuls verwek wat dan deur die oogsenuwee na die brein gelei word. Hierdie proses verskil aansienlik tussen gewerwelde en ongewerwelde diere soos in die skets hieronder gesien:

hv — foton; Gt — transdusien; PDE — Fosfaatdiësterase; cGMP — sikliese Guanosienmonofosfaat; Gq — Guanien nukleotiedbindende proteïen alfa-15; PIP2 — Fosfatidielinositol 4,5,bifosfaat; DAG — Diasielgliserol.

Daar bestaan 'n wye verskeidenheid tipes oë waarvan sommige hieronder getoon word. Hierdie groot verskeidenheid noop evolusioniste om te spekuleer dat oë op soveel as veertig verskillende stadiums in die evolusieproses en dit nogal onafhanklik van mekaar moes ontwikkel het.

Bronne: (A) Wikipedia; (B) Robert Pickett/CORBIS; (C) Russell Fernald/Stanford University; (D) Steve Jurvetson/Wikipedia; (E) David L. Green/Wikipedia; (F) Gerd Alberti, Uwe Kils/Wikipedia; (G) Bill Capman/Augsburg College; (H) Lawson Wood/CORBIS

Die werking en bou van die oog is geweldig kompleks veral as saamgestelde oë beskou word. Die trilobiete, wat in die Kambriese periode geleef het, het toe reeds oor van die mees komplekse oë bekend beskik. Dit verg myns insiens 'n geweldige groot geloofstap om te glo dat so 'n komplekse orgaan deur 'n doellose, lukrake proses ontwikkel het, veral as die vorige punt in ag geneem word, tensy die waarnemer deur sy vooropgesette filosofie juis daartoe gedryf word.